Archive | Julie, 2012
14 Jul

Paul Fairall, vleilandkundige en passievolle omgewingsbewuste, stuur die naweek vir my ‘n e-pos met die opskrif : gewone mense teen die regering”. Dit het my laat terugdink aan die beloftes wat die ANC in 1994 gemaak het van deursigtigheid, en mense wat in alle opsigte by besluitneming betrek sou word.

Die regering se voornemende aksie (neutralisering van suur mynwater) en die reaksie daarop (uit die Vaaldriehoek en Heidelberg)is ‘n sprekende voorbeeld van beloftes wat nie nagekom word nie: die regering het eensydig besluit op ‘n korttermynoplossing vir die suur mynwaterkwessie aan die Witwatersrand: pomp die water uit, gooi kalk by en siedaar…die water is nou alkalies, maar…dis steeds vol swaar metale en soute.

En die mense is woedend hieroor, veral dié wat aan die ontvangkant van die besoedelde mynwater is. Aangeheg by Paul se e-pos was ‘n dokument aan Digby Wells Environmental oor die korttermynbehandeling van die suur mynwater. En dis  op die voorlopige impakverslag wat die mense aan die “ontvangkant” van die besoedelde mynwater nou hul stemme dik maak.

Hulle is ‘n koalisie van sakelui en inwoners van Heidelberg, Vereeniging, Vanderbijlpark en Parys. Dié mense het nou met veldtog begin om druk op die minister van waterwese te plaas om haar korttermynplan vir die behandeling van suurmyn water te laat vaar, omdat dit die Vaalrivierstelsel gaan vernietig.

Staan saam!

Die koalisie bestaan uit 6 sakekamers, verteenwoordigers van 4 plaaslike owerhede en inwoners van Sedibeng. Hulle voer in die dokument  aan as Edna Molewa, minister van waterwese, toelaat dat die Trans Caledon Tunnel Authority (TCTA) net kalk by die suur mynwater voeg hulle- dis nou diegene wat langs die Vaalrivier en sy sytakke woon en werk- al die swaar metale en soute gaan ontvang.

Annalien Burger, sakevrou van Parys, sê die mense moet “wakker word en saam staan” om te keer dat die Vaalrivierstelsel op dié manier vernietig word. “Al moet ons met plakkate deur OR Tambo loop….”, sê sy.

Sy het ‘n versoekskrif begin wat sy aan meer as tien regeringsdepartemente geskryf het én aan sowat 300 belanghebbendes, wat sy vra dit op hul beurt ook aan Molewa moet stuur.

“Sy móét luister. Haar e-posbus móét só vol raak, dat sy ons nie kán ignoreer nie.”

Annalien skryf in die versoekskrif 1000 ton soute sal daagliks in die Blesbokspruit, die Els-Suikerbosrand-en Klipriviere beland as die regering nie onmiddellik ‘n omvattende plan vir die behandeling van suur mynwater opstel en in werking stel nie.

‘n Onvolhoubare plan

Dié aksie is begin nadat Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing (FVO), met sakelui en belanghebbendes van die Vaaldriehoek en die Groter Sedibeng gepraat het en aan hulle verduidelik het wat die korttermynplan met die suur mynater behels.

In die dokument, wat die koalisie(die Sedibeng United Business Forum/SURB). aan Digby Wells Environmental geskryf het, sê hulle:

*Suid-Afrika is ’n land wat ernstige waterskaarsste ervaar. Dit is ’n “onvolhoubare plan” om net kalk by die suur mynwater te gooi.

*Die regering kan nie toelaat dat besoedelde mynwater die landbou in die Noord-Kaap en langs die Vaalrivier vernietig nie. Dit sal die uitvoer van druiwe en wyn benadeel en tot duisende werkverliese lei.

*Verskeie groot nywerhede op die oewer van die Vaalrivier, soos Sasol, Eskom en Arcelor Mittal, kan nie besoedelde mynwater in hul prosesse gebruik nie. Besoedelde mynwater sal hul ondergang beteken.

 

Naskrif

Die regering het reeds begin met die proses en laat nou studies daaroor doen. Wie dink hulle draai hulle ‘n rat voor die oë?