Archive | Augustus, 2012

Suikerbosrand onder beleg

29 Aug

Ek is pas terug van ‘n marathon-vergadering tussen die burgerlike gemeenskap en Ngwenya, ‘n maatskappy wat magnetiet in die buffersone van die Suikerbosrandnatuurreservaat wil myn.

Emosie het soms hoog geloop en humeure het opgevlam omdat die gemeenskap en die omgewing se voortbestaan in die gedrang is.

Ek was die afgelope vyf jaar al by baie soortgelyke vergaderings en ek moet byvoeg hierdie was een van dié waar die gemeenskap hulself baie goed georganiseer het. Dit was duidelik dat hulle vooraf hul huiswerk gedoen het. Hulle het van die begin af saamgestaan en uit een mond gepraat. Hulle was onversetlik, maar redelik.

Die mense het presies geweet wie Ngwenya is- hoewel dit tot onlangs nog ‘n onbekende mynmaatskappy was.

Sover ek kon vasstel- met behulp van Elizabeth van Niekerk ‘n regsgeleerde van Vereeniging -bestaan  Ngwenya uit Rajen Puckree, ‘n myn-en metaalkonsultant

en Sam Tolmay, ‘n geoloog wat voorheen by BHP billiton gewerk het en hy het ook ‘n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van Noordwes met onderskeiding geslaag. Hy het ook ‘n BSc honneursgraad in aan die Universiteit van Johannesburg verwerf, ‘n B.Com-graad in die ekonomie aan Unisa en ‘n BSc in geologievan die Universiteit van Pretoria.

Puckree het erken hy besit self ook ‘n steenkoolmyn. Sy myn, Umlilo, is tussen Middelburg en Stofberg (in die opvangsgebied van die Olifantsrivier geleë) en die myn het nié ‘n waterlisensie nie.

Toe flikker die ligte rooi.

Die gemeenskap het besluit om hulself in ‘n aksiegroep te organiseer om hierdie bedreiging af te weer.

‘n Mens kan nou maar sê wat jy wil, maar ‘n oopgroefmyn is vernietigend. Die kanse op rehabilitasie is nul of dalk 5%.

Ek het net weer vandag besef, elke mens wat die vergadering bygewoon het, het waarskynlik tyd van die werk afgevat om al hul energie in dié drie ure te belê…hulle gaan baie energie en toewyding nodig hê in die maande wat volg. Dit is nou maar net een maal so dat die MPRDA (die wet op die ontwikkeling van minerale en petroleumhulpbronne) nie ‘n gelyke speelveld skep nie.

Gemeenskappe word op ‘n knop gejaag en in ‘n hoek gedruk. Hulle móét aan die proses deelneem anders sê die mynhuise daar was geen teenkanting teen hul aansoek nie.

En soos wat ons nou al baie in die praktyk gesien en beleef het, slaan die departement van minerale  bronne die kitaar en word die departemente van waterwese en omgewingsake heeltemal oorskadu.

Die regering het nou maar een maal besluit Suid-Afrika se ekonomiese groei hang van mynbou af. Dit is egter so kortsigtig en hoegenaamd nie volhoubaar nie.

Mynbou is sekerlik nodig, maar nie in sensitiewe gebiede soos Mpumalanga, die Suikerbosrand, die Limpoporivierkom en die Wildekus nie.

Die spanning tussen mynmaatskappye en gemeenskappe loop tans baie hoog en soos mnr. Barend Keet, boer, gister by die vergadering gesê het: hierdie is die eerste tree van ‘n lang geveg. Van die mense het bygevoeg hulle sal veg al vloei die bloed.

Die departement van minerale bronne en die regering kan nie nog ‘n Marikana bekostig nie.

CoAL: nuwe leiers, nuwe koers

7 Aug

Coal of Africa (CoAL) het van vier van sy direkteure ontslae geraak. Van hulle, soos Simon Farrell, het na baie jare glo afgetree. “Daar is niks vreemds, hieromtrent nie,” het Charmane Russel, CoAL se woordvoerder by navraag gesê.

Volgens miningmx.com het dié “beleërde” steenkool-en produksiemaatskappy nou vir David Brown, voorheen uitvoerdende hoof van Impala Platinum, as sy nuwe voorsitter aangestel.

Russell het gesê soos wat CoAL groei en verander, so verander sy raad en sy top-struktuur ook.

Nog twee nie-uitvoerende direkteurs, Steve Bywater en Mikki Xayiya, is ook op 6 Augustus weg by CoAL.

 

Richard Linnell, wat die afgelope 11 jaar op CoAL se raad was is ook op pad, of is reeds weg.

Die voormalige uitvoerdende direkteur by Anglo American, Bernard Pryor, is nou aangestel as ‘n nie-uitvoerende direkteur van CoAL.

 

Russell sê die bestuur van die maatskappy het “presies dieselfde” gebly. Die raad, wat ‘n leierskap-en strategiese rol speel, het wel verander. Daar ís dus ‘n aansienlike verandering. Russell noem dit “a changing of the guard”.

Sy wys ook daarop dat die maatskappy nou besig is om te ontwikkel vanaf ‘n “ontwikkelingsmaatskappy” na ‘n volwaardige operasionele maatskappy.

“Daar is niks sinistêr aan hierdie skuiwe nie,” het Russell volgehou.

John Wallington is nou die uitvoerende hoof van CoAL.

Intussen sukkel CoAL steeds om finansieel kop bo water te hou met ‘n aandeelprys wat die afgelope twee weke net-net bokant R3 gehuiwer het.