Archive | September, 2012

Hoe gaan ons dít regverdig?

16 Sep

Soos ek nou hier sit, op hierdie Sondagoggend (terwyl ek seker in die kerk moes gewees het), is dit net die voëls wat ek hoor en die wind, en soms ‘n deur wat iewers in die huis klap.

Ek probeer altyd in die dampkring van die waarheid beweeg. Van my as joernalis word dit verwag om die waarheid te dokumenteer- sonder vooroordeel.

Ek het twee dae gehad om te dink en te probeer verteer wat ek en fotograaf en kollega Loanna Hoffmann Vrydag vanuit die lug uit ‘n helikopter gesien het toe ons oor Delmas en Ogies gevlieg het.

 

Give and take

Ons was die ooggetuies van die vernietiging van die Bronkhorstspruit, sytak van die Olifantsrivier. “Ek glo aan give and take,” sê ‘n kollega nou die dag. Maar besef dié kollega – wie se naam ek nie gaan noem nie- dat hierdie sogenaamde “give and take” verreikende gevolge het. Dit blý nie net by dié stukkie rivier waar steenkool op groot skaal uitgehaal word nie. Die gevolge van die kanker wat hier veroorsaak word, word saamgedra, tot in die wildtuin tot by die Massingirdam, deur Mosambiek tot in die see.

Miskien sal iemand eendag, ná die huidige geslag se dood, hierdie blog iewers in die argiewe opdiep en besef wat ons aan ons eie land gedoen het.

Ek dink nie ons nageslag gaan ons hiervoor vergewe nie. Ek kan al die verwyte hoor: “Waarom het ons voorouers dit nie gestop nie? Was hulle dan só ruggraatloos? Was hulle geestelik siek? Het hulle nie verstaan wat hulle aan die omgewing doen nie? Was hulle só hebsugtig dat hulle toegelaat het dat ons land vernietig word terwille van hul eie gemaksug, sodat nét hulle kon krag hê, sodat nét hulle in die lig kon werk? Wat bly vir ons oor? Duisternis.”

‘n Monster

 

Ons is besig om ‘n monster te skep, wat ons land en sy mense en ons buurland en sý inwoners duur te staan gaan kom.

Ek het al baie die pad tussen Ogies en Delmas gery en was telkens geskok om te sien wat daar gebeur, maar niks kon my voorberei op dit wat ons uit die lug gesien het nie. Oopgroefmyn op oopgroefmyn sover soos wat die oog kon sien. BHP Billiton se oopgroefmyn reg langs die Kendall-kragstasie is 4 000ha groot. Ek dink dit is omtrent so groot soos 8 000 rugbyvelde.

Exxaro, ‘n ent verder weg, nader aan Delmas, is nou al so diep in die Leeuwpan dat jy skaars hul voorlaaiers kan herken.

As omgewingsjoernalis kom ek dikwels te staan voor etiese kwessies en ek vra en wonder dikwels: kan die trauma wat ‘n mens ervaar wanneer jy grootskeepse omgewingsvernietiging sien en beleef, gelyk gestel word aan dié trauma wat kollegas ervaar wat daagliks oor moord en dood, soos die Marikana-slagting en die moorde in Muldersdrift, verslag doen? Ek het dit een keer hardop gesê: “ek aanskou en doen verslag oor soortgelyke insidente as moord”. Maar hieroor is ek al hard oor die vingers getik. “Niks kom by mensemoord nie. Hoe kan jy dit probeer vergelyk?”

Massamoord?

Maar is dit nie maar ‘n stadige, pynlike dood-‘n massamoord- wat ek aanskou nie? ‘n Moord waar elke lewende wese doodgewurg word nie? Waar hy stadig doodgaan omdat hy gif inasem en die water moet drink wat met gif besmet is?

Die nagevolge van die vernietiging van ‘n ekosisteem, beteken net een ding: dood. Nie net van die mens nie, maar van al die plante, voëls en soogdiere wie se habitat vernietig word.

Ek en Loanna het gesien hoe boere op klein lappies grond tussen swart berge steenkool worstel om kos te produseer. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die chemikalië wat sommige van hulle gebruik, veroorsaak ook gif in die water.

Dié boere sal seker ook een of andertyd, soos mnr. Koot Claassen – wie se plaas ons ook uit die lug gesien het- die handdoek ingooi en vir die myne sê: dé vat…Die hele plaas is nou een groot myn…En waar ‘n vlei of dam was, is nou ‘n gat met groen water daarin.

Die tekens is reeds daar van nog mynbou-aktiwiteite wat vir die gebied beplan word: honderde prospekteerbore staan die wêreld vol- in panne en vleie en op landerye.

Van die boere wat nog oor is, werk tonne kalk in hul grond (voorheen rooi en vrugbaar) in, omdat dit nou versuur het.

Die wetenskaplikes wat die krokodilvrektes in die wildtuin nagevors het, het glo nou nog nie ‘n antwoord nie. Maar ek vermoed hulle wéét en besef dat die Olifantsrivier nou in so ‘n mate beskadig is, dat die voortbestaan van die Krugerwildtuin op die spel geplaas is.

Maar soos ons teen die tyd weet, het sommige van die myne ‘n manier om ‘n mens bang te praat, te dreig en te probeer intimindeer. Die ironie van die saak is, dat die mynhuise óns minerale rykdom opdiep, óns water vernietig en dan met die geld wat hulle hieruit verdien, advokate en prokureurs aanstel om diegene wat hulle kritiseer òf by die persombudsman gaan verkla òf hooggeregshof toe hardloop.

Nalatenskap

Só nou bly ons maar stil en hoop suur mynwater loop nie binnekort uit ons krane nie.

Dit wat ons Vrydag gesien het, gebeur ook in die Steelpoortrivier (nog ‘n sytak van die Olifants) en in die Klein-Olifantsrivier.

Dit gebeur óók in die opvangsgebied van die Vaalrivier. Hierdie kanker gaan versprei na Gauteng.

Kan die regering dan nie verstaan dat mynbou nie in sensitiewe gebiede moet plaasvind nie? Het ons nie geleer uit die nalatenskap van die goudmyne aan die Witwatersrand nie. Is daar nie ander, minder sensitiewe gebiede waar ons mynbou kan toelaat nie?

Ek hoor nou die dag ons minister van minerale bronne, Susan Shabangu sê van die steenkool wat in Suid-Afrika gemyn word, word 40% vir ons eie kragopwekking verbrand en 60% word uitgevoer. Moet ons nie eers na ons eie behoeftes omsien nie? Waarom moet ons ons omgewing vernietig sodat lande soos Indië en China kan groei? Dit maak mos nie sin nie.

Moenie verbaas wees as daar nog krokodille, skilpaaie en vis in die wildtuin en in die Loskopdam doodgaan nie. Moet ook nie verbaas wees as die boere van Groblersdal hul GlobalGap- sertifisering verloor nie.

En wees gewaarsku as die EU nie meer ons kos wil koop nie, gaan dit op ons eie markte verkoop word. Moet ook nie verbaas wees, as nog boere tou opgooi nie en nog plaaswerkers sonder werk sit nie.

En moenie verbaas wees as Gauteng se ekonomie tot stilstand knars nie.

Maar vir die oomblik skep die myne in die Olifantsrivier genoeg werk en hou dit die wiele van Suid-Afrika se ekonomie geolie en aan die rol…..

Wat is die regering se plan met ons kosmandjie?

13 Sep

Danie du Plessis, streeksverteenwoordiger van TLU SA se oosstreek (Ermelo), het ná die Landbouvooruitskouingskonferensie wat verlede week in Pretoria gehou is met my in die foyer van die WNNR gesit en gesels. Hy is, soos baie ander boere in die land, bekommerd oor die toekoms van landbou en voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Ek, soos seker baie Suid-Afrikaners, deel sy kommer. Die regering het nog net geluide gemaak dat hy Suid-Afrika in ‘n industriële nodus wil omskep en dat kos dan van ons buurlande ingevoer moet word. Die regering het nog nooit prontuit gesê dat dit sy plan is nie, maar alle tekens is daar.

As dit waar is, is dit baie kortsigtig. ‘n Mens hoef nie baie slim te wees om te besef as dit wel die geval is nie, ons buurlande ons kan gyselaar hou as ons vir ons kos só afhanklik is van hulle nie.

Du Plessis het vir my gesê die regering moet oop kaarte oor die toekoms van Mpumalanga met kommersiële boere speel.

“Boere kry die indruk dat mynbou voorkeur bo voedselsekuriteit kry omdat dit op korttermyn ’n groter bydrae tot die staatskas maak.”

Hy beskou dié beskouing as kortsigtig omdat kos uit mense se monde gehaal word terwyl net ’n paar mense uit mynbou ryk word.

Die vestiging van meer myne in Mpumalanga gaan voedselsekerheid en kommersiële landbou ernstig benadeel en kan dit selfs op sy knieë dwing, het Du Plessis gesê.

“Dit is tyd dat die nasionale regering sy standpunt nou in die openbaar duidelik maak sodat boere weet as hulle hul heil elders moet gaan soek.”

Dit is volgens hom nie net voedselsekerheid wat bedreig word nie, maar ook ’n groot deel van die land se waterbronne wat vernietig word.

Hy het daarop gewys dat boere wat hul gewasse uit die Loskopdam besproei, reeds internasionale waarskuwings gekry het dat hulle hul EuroGap-sertifisering gaan verloor omdat hulle uitvoerprodukte met besoedelde water uit die Olifantsrivier besproei.

“Dit hou ’n dreigende ramp vir landbou in.”

Net boere wat EuroGap-sertifisering het, word toegelaat om groente en vrugte na Europa uit te voer.

Volgens Du Plessis vrees boere dat daar teen hulle gediskrimineer word wat watertoewysings betref en dat hulle voortaan met die myne in Mpumalanga daarom sal moet meeding.

“Daar is ’n lewenskragtige toekoms vir landbou in Suid-Afrika. As die regering egter nie die omgewingsfaktore gaan regstel nie, sal die burgerlike samelewing genoodsaak wees om internasionale bewusmakingsveldtogte te begin loods oor die wyse waarop die ANC-regering die Suid-Afrikaanse omgewing op die altaar plaas.”

Hy het gewaarsku die regering slaan die bal mis as hy dink hy kan Suid-Afrika se mense met ingevoerde kos uit buurlande en Brasilië voed, omdat dié lande eerste na hul eie behoeftes gaan omsien.

Boere konsulteer gereeld met die regering, maar soos ek verstaan word baie van hul vrae nie beantwoord nie en praat hulle en die amptenare by mekaar verby. Ek het ook lankal agtergekom dat konsultasie (raadpleging) vir die regering iets heel anders beteken as vir ons gewone Suid-Afrikaners. My verstaan van raadpleging is dat jy as burger van ‘n demokratiese land van die heel begin af deel is van ‘n proses (soos met die besluit oor hidrobreking in die Karoo) en nie net later ingelig word oor besluite wat reeds geneem is nie.