Archive | Januarie, 2013

Medupi?Waar sal ons krag vandaan kom?

26 Jan
Medupi, buite Lepalale, die grootste bouprojek in Suider-Afrika staan al vir twee weke botstil. Waar gaan ons krag vandaan kom? Foto:Elise Tempelhoff

Medupi, buite Lepalale, die grootste bouprojek in Suider-Afrika, staan al vir twee weke botstil. Waar gaan ons krag vandaan kom? Foto:Elise Tempelhoff

“Dit gaan sleg op daai site,” sê ‘n ingenieur gister (25 Januarie). Die werkers blokkeer die paaie na Medupi en niemand kan gaan werk nie. Dit hou nou al twee weke so aan. En Medupi se eerste van ses eenhede sou einde verlede jaar (Desember 2012) die eerste krag begin lewer het, maar toe lê ‘n staking dit lam. Bouwerk is toe glo met ses maande vertraag.
En nou is hier wéér ‘n staking. Dié keer is werkers glo ontevrede omdat Thaise sweisers en ander vakmanne “ingevoer” word om by Medupi te werk. Dis glo veral die werkers wat vir Hitachi die stoomketels bou en dié wat met die oprigting van die turbines (Alstom) te make het, wat staak.
Die woord Medupi is ‘n Suid-Sotho-woord wat beteken “die reën wat deur kurkdroë grond opgeslurp word om ekonomiese verligting te bring”.
Maar Medupi gaan vir baie jare nog by ons spook. Eerstens omdat Suid-Afrika van die wa afgeval het wat sy energiebron betref. Terwyl die res van die wêreld wegbeweeg van steenkool, belê ons in Medupi en Kusile.
Die ironie is dat terwyl die Waterberg genoeg steenkool het om ons vir die volgende 100 jaar van dié fossielbrandstof te voorsien, is hier by Medupi nie water nie.
Kusile, weer is naby Ogies geleë, waar baie water en min steenkool van gehalte is. (Terloops die New Largo Myn wat deur Anglo Coal bedryf gaan word, is pas goedgekeur. Hier gaan reuse vleie in die slag bly..En weer eens word ons vars waterbronne en ons riviere op die spel geplaas).
Boonop het Suid-Afrika meer as R30miljard by die Wêreldbank geleen om Medupi te finansier.
Eskom is baie trots op dié projek en het ‘n glansbrosjure daaroor gepubliseer. Hierin word vertel van al Medupi se mylpale.
As ‘n mens na die konstruksie kyk, is Medupi aanskoulik, maar as jy dieper gaan delf, val die geraamtes uit die kas.
En dan wonder ‘n mens ook wat het van die Korrelbed Kernreaktor (PMBR) geword. Dié het in die niet verdwyn en is heeltemal van die tafel af.
Medupi is geleë op ‘n gewese wild-en beesplaas van 883ha. Dié plaas NaauwOntkomen behoort nou aan Exxaro CoAL. Exxaro gaan ook die enigste steenkoolverskaffer van Medupi wees. ‘n Mens kan maar net hieroor wonder. Exxaro is ‘n private maatskappy, gelys op die JSE en Medupi word op sý plaas opgerig.
Die inligtingsbrosjure sê tydens die eerste fase van bouwerk, moes verskeie kremetarte verskuif word, asook slange, ander bome en LET WEL voëls…hoe verskuif ‘n mens ‘n voël? Ek het gaan kyk na die twee kremetarte wat verskuif en voor by die ingang na Medupi oorgeplant is. Hul groei sal dopgehou moet word. In hierdie stadium lewe hulle nog. Nog kremetarte is glo na ‘n kwekery by die Matimba kragstasie (‘n klipgooi van Medupi af) gebring.
Medupi word gebou om vir 50jaar krag (4 800MW) aan Suid-Afrika te voorsien.
Dink net wat die koolstofvoetspoor is van die konstruksiewerk:
*met die beton wat gebruik word, kan vier Groenpunt stadions gebou word;
*meer staal as in die wêreld se hoogste gebou, die Burj in Dubai, word vir Medupi gebruik;
*as Medupi klaar gebou is, sal die totale afstand wat vragmotors gery het om boumateriaal by die perseel af te laai, gelyk wees aan 20 keer die omtrek van die aarde.
*Medupi sal daagliks water gebruik wat 15 Olimpiese swembaddens kan volmaak;
*die steenkool wat die kragstasie daagliks sal gebruik sal 20 Olimpiese swembaddens volmaak.

Eskom spog daarmee dat die grootste kontrak in die 83jarige bestaan van Eskom toegeken is aan Hitachi, waarin Chancellor House van die ANC ‘n stewige aandeel besit.

Eskom erken Medupi gaan ‘n geweldige invloed hê op die lewens van die mense van Lepalale (Ellisras). Die ekonomie van hierdie eens vaal dorpie in Limpopo gaan glo met 95% groei.

Daar word egter niks gesê van die waternood wat die inwoners in die gesig staar nie, en niks oor die lugbesoedeling nie.

Weer eens word net die ekonomiese voordele van ‘n reuse kragstasie op die voorgrond geplaas.

Advertisements

Silikoselyers soek geregtigheid

4 Jan

 

Elise Tempelhoff

Toe ek ‘n kind was, het ons vir ‘n ruk in Randfontein gewoon. My ma, haar hele lewe lank ‘n verpleegster, het in daardie tyd by die “TB-hospitaal” buite die dorp gewerk. Sy het my dikwels vertel van die verskriklike lyding wat die mense deurmaak wanneer hulle sukkel om asem te kry.

Min het ek besef die mense ly aan silikose (myntering).

Destyds is die mense vir ‘n rukkie in die hospitaal behandel waarna hulle met R40 000 huis toe gestuur is. “Huis” was gewoonlik Lesotho of die Oos-Kaap. Dáár het hulle dikwels in armoede geleef tot hulle later dood is.

Die menseregteprokureur, Richard Spoor, het egter nou besluit, die tyd vir geregtigheid om te geskied, het nóú aangebreek.

Hy het vir langer as ‘n jaar daaraan gewerk om die oud-mynwerkers (dié wat nog leef) of hul naasbestaandes op te spoor ter voorbreiding van ‘n klasaksie teen 30 goudmyne.

Hy het meer as 17 000 mense opgespoor en het onlangs ‘n aansoek  in die Suid-Gautengse Hooggeregshof gebring om ‘n klasaksie te begin.

As die hooggeregshof dit goedkeur, sal dit die grootste klasaksie wees wat tot nog toe in Suid-Afrika gebring is.

Die voorbereidingswerk het glo bykans R9miljoen gekos.

Volgens Spoor, wat bygestaan word deur die Amerikaanse regsfirma, Motley Rice LLC, is al die mynmaatskappye, hul moedermaatskappye en filiale bewus van die regsaksie. Van die mynmaatskappye wat gedagvaar is, is nie meer in Suid-Afrika bedrywig nie of het ontbondel en hul myne verkoop.

Mynmaatskappye kan dit teenstaan, maar dan gaan individuele eise om skadevergoeding gebring word, het Spoor aan my gesê.

“Ons het genoeg geld om vir eens en vir altyd geregtigheid te laat geskied,” het hy gesê.

Pranill Ramchander, woordvoerder van Anglo American, asook James Duncan van DRD Gold twee van die respondente, het gesê dié myngroepe is bewus van die saak, maar het nog nie dokumente ontvang nie.

Corne Dippenaar, woordvoerder van die miljadêr Patrice Motsepe se myngroep, African Rainbow Minerals(ARM), wat ook gedagvaar word, het gesê Beeld se navrae is aan hul regsverteenwoordigers gestuur en het op hul antwoord gewag. ARM was vroeër bekend as Anglo Vaal.

Alan Fine, AngloGold Ashanti, se woordvoerder het gesê die mynhuis bestudeer tans Spoor se aansoek. “Dit bring verskeie komplekse regs-en feitelike aspekte na vore. AngloGold Ashanti sal homself deur middel van die gepaste hofprosedure op grond van meriete verdedig.”

Hendrika Basterfield, woordvoerder van Harmony Gold, het gesê die myngroep sal later op Spoor se aansoek reageer.

Spoor, wat in 2003 ‘n skikking vir vergoeding van R450mijloen met ‘n Suid-Afrikaanse asbesmyngroep bereik het, het gesê as die hof oortuig kan word dat die klasaksie gebring moet word, sal ‘n eenmalige eis namens die mynwerkers ingestel word vir pyn en lyding, mediese onkostes en verlies aan huidige en toekomste inkomste.

Hy het gesê dié aansoek behoort reeds teen April in die hof te wees.