Archive | Maart, 2013
Eenkant

CoAL soek water

31 Mar
Feitlik die hele die Limpoporivierkom is onder prospekteeraansoeke. Hierdie foto van Tshipise en die Limpopokom is in Januarie vanjaar geneem. 
Foto:Elise Tempelhoff

Feitlik die hele die Limpoporivierkom is onder prospekteeraansoeke. Hierdie foto van Tshipise en die Limpopokom is in Januarie vanjaar geneem. Foto:Elise Tempelhoff

CoAL soek water in die Limpopokom…
by Elise Tempelhoff

Groot dele van die Limpoporivierkom is in Coal of Africa se visier. Hier is die deel van die Soutpansberg by Tshipise. In die gebied wes van Tshipise lê van die rykste kookssteenkoolvelde ter wêreld. Dit is nog nooit gemyn nie, weens ‘n gebrek aan water in die gebied.
Foto: Elise Tempelhoff
Coal of Africa (CoAL) wil in Oktober met sy Makhado-myn aan die noordelike hange van die Soutpansberg te begin.
Dié myngroep het in 2009 in omstredenheid beland toe hy by sy Vele-myn langs Mapungubwe sonder ‘n waterlisensie of omgewingstoestemming oopgemaak het. Dié myn was vir tien maande tóé en dit het die myngroep duur te staan gekom deurdat sy aandeelprys skerp geval het (en trouens nog nooit herstel het nie).
Toe kom CoAL in 2010 en hy boor ‘n wateraar aan die noordelike hange van die Soutpansberg tydens prospektering oop.
Die maatskappye sukkel nou reeds die afgelope net meer as twee jaar om sy Makhado-projek aan die gang te kry. En nou doen hy aansoek om ‘n waterlisensie vir Makhado.
Verskeie nie-regeringsorganisasies en enkelinge het beswaarskrifte by die departement van waterwese ingehandig teen dié aansoek.
Díé lywigste beswaarskrif, Objection to Coal of Africa’s Intergrated Wateruse Licence Application, is onderteken deur die Makhado-aksiegroep, die Mudimelli-gemeenskap, Red ons Limpoporivier van Steenkoolmyne, die Gaia Stigting en Dzumo la Mupo.
Dr. Marika van der Walt, waterregsgeleerde wat die beswaarskrif namens die groepe opgestel het, het gesê die regering kan nie CoAL se aansoek in isolasie oorweeg nie omdat dit “maar net die ore van die seekoei” is.
Gemeenskappe, bewaringsorganisasies en omgewingsbewustes het in ’n beswaarskrif gesê daar is nie genoeg water in die droë Limpoporiviervallei vir mense, diere, die ekostelsel én CoAL se beoogde steenkoolmyne nie.
Die hele Limpoporivierkom, waarin van die land se waardevolste steenkoolneerslae is, is tans in die visier van verskeie plaaslike en oorsese myngroepe.
Die rede waarom dié minerale rykdom nog nooit ontgin is nie, is juis weens die gebrek aan water in die gebied.
In die beswaarskrif sê die Mudimelli-gemeenskap, wat reg langs die beoogde oopgroefmyn woon, hulle is nooit deur CoAL geraadpleeg nie. Dié gemeenskap is besorgd oor hul ondergrondse water wat deur die mynboubedrywighede vernietig gaan word. Dzumo la Mupo (Stem van die Natuur), wat afhanklik is van die water in die Nzheleledam-en rivier, sê in hul reaksie hulle is ook nooit deur CoAL geraadpleeg nie.
Liz Hoskin van die Gaia-Stigting, ’n internasionale bewaringsorganisasie, het gesê CoAL moet aan die Venda-gemeenskappe verduidelik hoe hulle sonder hul rivier- en ondergrondse water moet voortbestaan. Volgens Hoskin is daar nie genoeg water in die streek om CoAL se Makhado-myn en al sy toekomstige beoogde myne te onderhou terwyl mense ook hier probeer oorleef nie.
Volgens CoAL se aansoek vir ’n waterlisensie, wil dié Australiese myngroep, “nuwe water” vir die Nzhelelerivier en -dam skep deur uitheemse bome uit te haal en ’n stukkende kanaal te herstel waardeur water verlore gaan.
Hierop sê Van der Walt CoAL kan nie aanspraak maak op “nuwe water” nie omdat dít ingevolge die Nasionale Waterwet aan die mense en die ekologiese reserwe van die rivier behoort. Laasgenoemde is nog nooit vasgestel nie.
CoAL het in reaksie op die beswaarskrif gesê dié myngroep sal voortgaan om met alle gemeenskappe saam te werk.
Nou wag almal in spanning op die departement van waterwese se besluit. Wanneer die besluit geneem gaan word, is onseker, maar dit sal binnekort wees.
Elise Tempelhoff | March 31, 2013 at 8:06 pm | Categories: Uncategorized | URL: http://wp.me/p2PDpg-gT
Comment
See all comments
Like

Image

Advertisements