Archive | Junie, 2013

TKAG en Afriforum begin mobiliseer teen hidrobreking..

14 Jun

Die burgerregte-organisasie Afriforum en die omgewingsorganisasie Treasure the Karoo Action Group( TKAG) is bereid om tot in die konstitusionele hof te veg om te voorkom dat hidrobreking in die Karoo plaasvind. Só het Jonathan Deal, voorsitter van TKAG en wenner van die Goldman-omgewingsprys, op 13 Junie tydens ’n lesing in Pretoria gesê.
Volgens Deal het TKAG genoeg bewyse dat die ontginning van skaliegas deur hidrobreking nie volhoubaar is nie en dat dit die omgewing onherstelbaar sal beskadig.Deal het gesê sodra die regering die eerste prospekteerlisensies uitreik – vermoedelik voor die einde van die jaar – sal regsaksie begin word. “Ons is wakker. Ons wag daarvoor,” het hy gesê.Alle interne remedies sal eers uitgeput word, waarna die howe genader sal word, het Deal gesê.
Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by Afriforum, het gister gesê dié burgerregte-organisasie het onlangs begin met bewusmakingsveldtogte en gaan binnekort begin om gemeenskappe teen die planne van Shell en ander olie- en gasmaatskappye te mobiliseer.“Ons gaan ook ’n massiewe veldtog begin teen die regering wat groot maatskappye toelaat om die omgewing te vernietig deur hidrobreking,” het Kleynhans gesê.
TKAG en Afriforum gaan video’s op YouTube publiseer as deel van hul bewusmakingsveldtog.
Volgens Kleynhans gaan Afriforum binnekort ’n uitnodiging rig aan Shell se Suid-Afrikaanse hoof, Bonang Mohale, vir ’n openbare debat oor hidrobreking. Mohale het by navraag gesê Shell is al sedert 2009 in “’n openbare debat” met TKAG betrokke.“Ons wag dat die eerste prospekteerlisensies uitgereik word. Ons sit in spanning en wag, Wat óns weet, lees ons in die koerant,” het Mohale gesê. Hy het daarna verwys dat Susan Shabangu, minister van minerale bronne, reeds op 7 September verlede jaar die moratorium op die uitreik van lisensies opgehef het, maar dat Shell nie in hierdie stadium weet waar hy staan nie.Volgens Mohale sal die maatskappy ’n aankondiging maak sodra hy sy eerste lisensie gekry het. “Ons sal dit as ’n mylpaal beskou en die boodskap aan die groot klok hang,” het hy gesê.Oor vrese dat Shell nie weet waar hy massiewe hoeveelhede water vir hidrobreking in die droë Karoo in die hande gaan kry nie, het Mohale gesê dié maatskappy “het verskeie opsies”.“Ons kan seewater ontsout of ons kan die brak water 4 km onder die Karookom gebruik.”Kleynhans het gesê sodra Shell die “ja-woord” van die regering kry, sal regsaksies begin. Volgens Kleynhans het Afriforum die regskundigheid om dié stryd vir die beskerming van die sensitiewe, droë Karoo saam met TKAG te voer.
Deal het gesê Mohale is al verskeie keer uitgenooi om in ‘n openbare debat met TKAG te tree, maar elke keer word dit afgestel “Kom ons kyk of Shell Afriforum se uitnodiging aanvaar,” het Deal gesê.
Shell meen hy gaan meer as 300 000 werkgeleenthede in die Karoo skep en R80miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra. Shell gaan Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk met 3,3% laat styg. ‘n Mens wonder waar dié syfers vandaankom. ‘n Openbare debat, waar elke lid van die publiek vreesloos vrae aan enige van die partye kan vra, is die enigste oplossing om onduidelikhede uit die weg te ruim. Kom ons kyk wat die toekoms oplewer…

Advertisements

Stryd om toegang tot inligting nou in die hooggeregshof

9 Jun

Stryd om toegang tot inligting nou in die hooggeregshof.

Stryd om toegang tot inligting nou in die hooggeregshof

9 Jun

Die Vaal Environment Justice Alliance (Veja) is nou in die hooggeregshof in JOhannesburg om ArcelorMittal se Meesterplan vir die herstel van die omgewing in Vanderbijlpark en Vereeniging te probeer kry.
Dié nywerheidsreus weier om ‘n kopie van sy Meesterplan vir die herstel van die omgewing in Vanderbijlpark en Vereeniging aan dié NRO beskikbaar te stel, omdat dit glo “onwetenskaplik en uitgedien” is.
Adv. Steven Budlender het gesê Veja is ‘n waghond vir die omgewing en moet toegang kry tot Amsa se meesterplan (wat reeds in 2003) opgestel is, om te sien of Amsa by sy beloftes hou.
Veja het twee jaar gelede die Wet op die Bevordering van Toegang tot inligting gebruik om ‘n kopie van Amsa se meesterplan en alle vorderingsverslae te kry. Amsa het dit geweier omdat hulle glo meen die regering is die reguleerders en nie Veja nie.
Adv. Chris Loxton, namens Amsa, het aangevoer die Meesterplan vir die omgewing is nie meer relevant nie.
Verlede jaar het Veja aansoek gedoen om inligting te kry oor Amsa se stortingsterrein waarop giftige stowwe gestort is.Veja wil ook probeer uitvind of Amsa by sy permitte vir die vrystel van gasse in die lug hou.
Veja sê hy verteenwoordige verskeie gemeenskappe in die Vaaldriehoek en dit is sy grondwetlike reg om die dokumente te kry.
“Veja moet die vorderingsverslae bestudeer om te sien of Amsa wetgewing ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Waterwet (Nema) nakom,”, het Samson Mokoena, koördineerder van Veja gesê.
Mokoena het gesê dit is die inwoners van die Vaaldriehoek se reg om te weet wat dié nywerheidsreus in hul omgewing doen en hoe dit die mense se gesondheid beïnvloed. “As lede van die gemeenskap verstaan ons nie waarom Amsa, wat daarop roem dat hulle verantwoordelike korporatiewe burgers is, nie sy omgewingsplanne met ons wil deel nie.”
Veja is nou in die hof om Amsa te dwing om deursigtig te wees.
Robyn Hugo, prokureur by die Sentrum vir Omgewingsreg, het gesê hierdie saak is van uiterste belang omdat dit ‘n regspresedent kan skep. Maatskappye soos Amsa is verantwoordbaar teenoor die gemeenskappe waarbinne hulle werk. Gemeenskappe het die reg om te weet hoe dié werksaamhede hul gesondheid beïnvloed en of die maatskappy binne die wet optree.”
Themba Hlengani, Amsa se woordvoerder, het gesê die saak is nou sub judice en daarom gaan dié nywerheidsreus nie kommentaar daarop lewer nie.
*Amsa het reeds in 2000 (onder groot druk van die gemeenskap) begin met die opstel van ‘n meesterplan vir die herstel van die omgewing en destyds belowe hy het R1miljard opsygesit vir die rehabilitasie van die grondwater, sy omstrede stortingsdam 10 én sy stortingsterrein. .
Uitspraak in die saak is voorbehou.