Medupi?Waar sal ons krag vandaan kom?

26 Jan
Medupi, buite Lepalale, die grootste bouprojek in Suider-Afrika staan al vir twee weke botstil. Waar gaan ons krag vandaan kom? Foto:Elise Tempelhoff

Medupi, buite Lepalale, die grootste bouprojek in Suider-Afrika, staan al vir twee weke botstil. Waar gaan ons krag vandaan kom? Foto:Elise Tempelhoff

“Dit gaan sleg op daai site,” sê ‘n ingenieur gister (25 Januarie). Die werkers blokkeer die paaie na Medupi en niemand kan gaan werk nie. Dit hou nou al twee weke so aan. En Medupi se eerste van ses eenhede sou einde verlede jaar (Desember 2012) die eerste krag begin lewer het, maar toe lê ‘n staking dit lam. Bouwerk is toe glo met ses maande vertraag.
En nou is hier wéér ‘n staking. Dié keer is werkers glo ontevrede omdat Thaise sweisers en ander vakmanne “ingevoer” word om by Medupi te werk. Dis glo veral die werkers wat vir Hitachi die stoomketels bou en dié wat met die oprigting van die turbines (Alstom) te make het, wat staak.
Die woord Medupi is ‘n Suid-Sotho-woord wat beteken “die reën wat deur kurkdroë grond opgeslurp word om ekonomiese verligting te bring”.
Maar Medupi gaan vir baie jare nog by ons spook. Eerstens omdat Suid-Afrika van die wa afgeval het wat sy energiebron betref. Terwyl die res van die wêreld wegbeweeg van steenkool, belê ons in Medupi en Kusile.
Die ironie is dat terwyl die Waterberg genoeg steenkool het om ons vir die volgende 100 jaar van dié fossielbrandstof te voorsien, is hier by Medupi nie water nie.
Kusile, weer is naby Ogies geleë, waar baie water en min steenkool van gehalte is. (Terloops die New Largo Myn wat deur Anglo Coal bedryf gaan word, is pas goedgekeur. Hier gaan reuse vleie in die slag bly..En weer eens word ons vars waterbronne en ons riviere op die spel geplaas).
Boonop het Suid-Afrika meer as R30miljard by die Wêreldbank geleen om Medupi te finansier.
Eskom is baie trots op dié projek en het ‘n glansbrosjure daaroor gepubliseer. Hierin word vertel van al Medupi se mylpale.
As ‘n mens na die konstruksie kyk, is Medupi aanskoulik, maar as jy dieper gaan delf, val die geraamtes uit die kas.
En dan wonder ‘n mens ook wat het van die Korrelbed Kernreaktor (PMBR) geword. Dié het in die niet verdwyn en is heeltemal van die tafel af.
Medupi is geleë op ‘n gewese wild-en beesplaas van 883ha. Dié plaas NaauwOntkomen behoort nou aan Exxaro CoAL. Exxaro gaan ook die enigste steenkoolverskaffer van Medupi wees. ‘n Mens kan maar net hieroor wonder. Exxaro is ‘n private maatskappy, gelys op die JSE en Medupi word op sý plaas opgerig.
Die inligtingsbrosjure sê tydens die eerste fase van bouwerk, moes verskeie kremetarte verskuif word, asook slange, ander bome en LET WEL voëls…hoe verskuif ‘n mens ‘n voël? Ek het gaan kyk na die twee kremetarte wat verskuif en voor by die ingang na Medupi oorgeplant is. Hul groei sal dopgehou moet word. In hierdie stadium lewe hulle nog. Nog kremetarte is glo na ‘n kwekery by die Matimba kragstasie (‘n klipgooi van Medupi af) gebring.
Medupi word gebou om vir 50jaar krag (4 800MW) aan Suid-Afrika te voorsien.
Dink net wat die koolstofvoetspoor is van die konstruksiewerk:
*met die beton wat gebruik word, kan vier Groenpunt stadions gebou word;
*meer staal as in die wêreld se hoogste gebou, die Burj in Dubai, word vir Medupi gebruik;
*as Medupi klaar gebou is, sal die totale afstand wat vragmotors gery het om boumateriaal by die perseel af te laai, gelyk wees aan 20 keer die omtrek van die aarde.
*Medupi sal daagliks water gebruik wat 15 Olimpiese swembaddens kan volmaak;
*die steenkool wat die kragstasie daagliks sal gebruik sal 20 Olimpiese swembaddens volmaak.

Eskom spog daarmee dat die grootste kontrak in die 83jarige bestaan van Eskom toegeken is aan Hitachi, waarin Chancellor House van die ANC ‘n stewige aandeel besit.

Eskom erken Medupi gaan ‘n geweldige invloed hê op die lewens van die mense van Lepalale (Ellisras). Die ekonomie van hierdie eens vaal dorpie in Limpopo gaan glo met 95% groei.

Daar word egter niks gesê van die waternood wat die inwoners in die gesig staar nie, en niks oor die lugbesoedeling nie.

Weer eens word net die ekonomiese voordele van ‘n reuse kragstasie op die voorgrond geplaas.

Silikoselyers soek geregtigheid

4 Jan

 

Elise Tempelhoff

Toe ek ‘n kind was, het ons vir ‘n ruk in Randfontein gewoon. My ma, haar hele lewe lank ‘n verpleegster, het in daardie tyd by die “TB-hospitaal” buite die dorp gewerk. Sy het my dikwels vertel van die verskriklike lyding wat die mense deurmaak wanneer hulle sukkel om asem te kry.

Min het ek besef die mense ly aan silikose (myntering).

Destyds is die mense vir ‘n rukkie in die hospitaal behandel waarna hulle met R40 000 huis toe gestuur is. “Huis” was gewoonlik Lesotho of die Oos-Kaap. Dáár het hulle dikwels in armoede geleef tot hulle later dood is.

Die menseregteprokureur, Richard Spoor, het egter nou besluit, die tyd vir geregtigheid om te geskied, het nóú aangebreek.

Hy het vir langer as ‘n jaar daaraan gewerk om die oud-mynwerkers (dié wat nog leef) of hul naasbestaandes op te spoor ter voorbreiding van ‘n klasaksie teen 30 goudmyne.

Hy het meer as 17 000 mense opgespoor en het onlangs ‘n aansoek  in die Suid-Gautengse Hooggeregshof gebring om ‘n klasaksie te begin.

As die hooggeregshof dit goedkeur, sal dit die grootste klasaksie wees wat tot nog toe in Suid-Afrika gebring is.

Die voorbereidingswerk het glo bykans R9miljoen gekos.

Volgens Spoor, wat bygestaan word deur die Amerikaanse regsfirma, Motley Rice LLC, is al die mynmaatskappye, hul moedermaatskappye en filiale bewus van die regsaksie. Van die mynmaatskappye wat gedagvaar is, is nie meer in Suid-Afrika bedrywig nie of het ontbondel en hul myne verkoop.

Mynmaatskappye kan dit teenstaan, maar dan gaan individuele eise om skadevergoeding gebring word, het Spoor aan my gesê.

“Ons het genoeg geld om vir eens en vir altyd geregtigheid te laat geskied,” het hy gesê.

Pranill Ramchander, woordvoerder van Anglo American, asook James Duncan van DRD Gold twee van die respondente, het gesê dié myngroepe is bewus van die saak, maar het nog nie dokumente ontvang nie.

Corne Dippenaar, woordvoerder van die miljadêr Patrice Motsepe se myngroep, African Rainbow Minerals(ARM), wat ook gedagvaar word, het gesê Beeld se navrae is aan hul regsverteenwoordigers gestuur en het op hul antwoord gewag. ARM was vroeër bekend as Anglo Vaal.

Alan Fine, AngloGold Ashanti, se woordvoerder het gesê die mynhuis bestudeer tans Spoor se aansoek. “Dit bring verskeie komplekse regs-en feitelike aspekte na vore. AngloGold Ashanti sal homself deur middel van die gepaste hofprosedure op grond van meriete verdedig.”

Hendrika Basterfield, woordvoerder van Harmony Gold, het gesê die myngroep sal later op Spoor se aansoek reageer.

Spoor, wat in 2003 ‘n skikking vir vergoeding van R450mijloen met ‘n Suid-Afrikaanse asbesmyngroep bereik het, het gesê as die hof oortuig kan word dat die klasaksie gebring moet word, sal ‘n eenmalige eis namens die mynwerkers ingestel word vir pyn en lyding, mediese onkostes en verlies aan huidige en toekomste inkomste.

Hy het gesê dié aansoek behoort reeds teen April in die hof te wees.

Waterwese appèlhof toe oor Weltevredenpan /Glisa-vleie

15 Des

IMG01110-20120914-1128

Die Weltevredenpan by Exxaro se Leeuwpanmyn. Op die foto is dit duidelik sigbaar hoe die Pan reeds gedeeltelik gemyn is. Die foto is geneem nadat die Blou Skerpioene die direktief uitgereik het wat Exxaro beveel het om op te hou om die Pan te myn. Hierdie foto is in September vanuit ‘n helikopter geneem. Foto:Elise Tempelhoff

Die departement van waterwese het toe Vrydag (14 Desember) dokumente by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien om appèl aan te teken teen  ‘n uitspraak op 7 Desember dat die direktiewe wat teen Exxaro uitgereik is om mynbedrywighede in Weltevredenpan (buite Delmas) en Glisa se vleie (buite Belfast) te myn, opgehef word.

Dít was die onvoorsiene gevolge van die uitspraak, sê die departement van waterwese.

Exxaro het drie weke gelede ‘n dringende hofaansoek gebring dat hy onregverdig behandel is toe die direktiewe uitgereik is omdat die minister van waterwese, Edna Molewa, die Watertribunaal, eensydig afgeskaf het. Exxaro het aangevoer hy wou teen die direktiewe (bevele) appèl aanteken, maar omdat die Watertribunaal nie meer bestaan nie, was sy hande glo afgekap.

Die hooggeregshof het geen bevel oor die Watertribunaal gemaak nie, maar die direktiewe laat ophef. Dié direktiewe is uitgereik ingevolge die Nasionale Waterwet. Die Blou Skerpioene het die direktiewe teen Exxaro uitgereik omdat die mynhuis die vleie by sy Glisa-myn opgemyn het en besig was om Weltevredenpan buite Delmas te myn.

Ek was van die begin af- verlede November- ‘n ooggetuie van hoe Exxaro eers besig was om kanale rondom Weltevredenpan gegrawe om dit te dreineer. Ek het dié Pan besoek nadat Peet Bezuidenhout, boer en boorling in die gebied benoud gebel het en gesê het ek moet kom kyk wat Exxaro aanvang.

Mary-Ann Palmer, kollega en fotograaf by Foto24 het foto’s geneem. Maar dis moeilik om horisontaal te staan en behoorlik foto’s neem. Exxaro het in antwoord op vrae en die foto’s gesê hulle “bou net ‘n pad”. Dis die soort generiese antwoorde wat ek gedurig van hulle kry- ook in antwoord op vrae wat met Mooifontein (Arnot) en Glisa se vleie gebeur het.

Later het die geel masjiene ingekom en die Pan begin myn. Weer eens het die boere in die omgewing groot kapsie gemaak en later die Blou Skerpioene laat kom. Dié het toe die direktiewe uitgereik. Exxaro hou vol hy mag die Pan myn en dat hy niks by Glisa verkeerd gedoen het nie.

Niemand mag ‘n pan, vlei of rivier myn nie. Die Waterwet sê so en bowendien is dit oneties en vernietig dit sensitiewe ekostelsels.

En nou takel Waterwese en Exxaro mekaar in die hof oor Weltevredenpan en die vleie by Glisa.

Exxaro hou vol hy het toestemming om Weltevredenpan te myn. Sy waterlisensie  sê glo so. Net die Minister kan toestemming – met baie goeie redes gee- as ‘n pan, vlei of rivier gemyn mag word.

Ek kon tot dusver geen verwysing in die waterlisensie kry van enige melding wat gemaak word van die Pan nie. Exxaro het geweier om vir my ‘n afskrif van die waterlisensie te gee, maar ek het dit gekry as deel van die oorspronklike hofstukke.

Franz Fuls, bedryfsingenieur van Ermelo en vryskutjoernalis het wel die lisensie gekry deur ‘n Paia-aansoek te bring. Hy is besig om dit te oudit.

Die Sentrum vir Omgewingsreg, wat bestaan uit omgewingsregslui, het intussen ‘n dringende beroep op Exxaro gedoen en gevra om verantwoordelik te wees en nie die vleie en die Pan te myn terwyl die Minister se appèlsaak hangende is nie.

Die Sentrum het Exxaro veral daarop gewys dat hy gelys is op die JSE se Volhoubaarheidsindeks en om daarom nie dié ekologies sensitiewe gebiede te myn nie.

Exxaro het gesê hy sal die appèlaansoek bestudeer en dan besluit wat hy in die hof en op grondvlak gaan doen.

Die Pan se steenkool is glo baie waardevol – in geldwaarde(!) en die mynhuis het glo ook reeds ‘n koper daarvoor.

Die Pan is van onskatbare waarde vir die ekologie en vir die Bronkhorstspruit (sytak van die Olifantsrivier). Die vleie verrig noodsaaklike funksies in die Steelpoortrivier wat by Glisa verbyloop. Geld kan hierdie funksies nie terugkoop nie as die omgewing eers vernietig is nie.

Die hofaansoek is dringend.

Foto

Weltevredenpan

14 Des

Image

Koalisie van NRO’s moedeloos met CoAL@Vele/Mapungubwe

8 Des

Die koalisie van nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat verlede jaar in November onder groot kritiek deurgeloop het toe hulle aan ‘n Memorandum van Verstandhouding(MvV) met CoAL begin werk het, het nou die handdoek ingegooi.

Die MvV “is dood”, het een van die lede van die koalisie gister gesê.

As ‘n mens daaraan terugdink, moes die koalisie dalk destyds deurgedruk het met ‘n  dringende aansoek teen CoAL, maar dit sou geld kos. Die koalisie het toe interne remedies gebruik- waarvoor hulle lof moet kry- om CoAL vir tien maande by Vele te stop. Maar toe gaan die destydse minister van waterwese en gee vir die Australiese myngroep (ondanks groot openbare teenstand) ‘n waterlisensie om by Vele voort te gaan.

Dít het die koalisie “verlam” en hulle laat besluit om ‘n MvV met CoAL aan te gaan. Die MvV sou uiteindelik ontwikkeling in ‘n Memorandum van Ooreenkoms/Samewerking. Die doel hiervan sou wees om waarlik “beste praktyk in die mynwese” tot stand te bring.

Die koalisie is egter nou ontnugter met CoAL. ‘n Mens wil amper vir die koalisie sê :”Ons het julle mos gesê.” Maar ek sal dit liewer nie doen nie, hoewel ek vanoggend ‘n paar e-posse van lesers  ontvang het, wat gesê het hulle het dié ontnugtering verwag. Gaan kyk gerus wat by Vuna aangaan en by Mooiplaats. By laasgenoemde myn CoAL in die opvangsgebied van die Vaalrivier by die Witpuntspruit. By Vuna myn CoAL sommer ‘n vlei in die Klein-Olifantsrivier uit.

Die koalisie het gister (7 Desember presies om 15:00) besluit hulle het genoeg gehad. CoAL oortree glo die voorwaardes van sy waterlisensie en het nou al die LImpoporivier (LW dis ‘n internasionale rivier!) só beskadig dat herstelwerk reeds nodig is.

Die koalisie sê hulle sal deel bly van die omgewingsmoniteringskomitee (die sogenaamde EMC) wat moet kyk of CoAL wetgewing nakom. Lyk nie juis of hierdie EMC enige tande het nie, want geen optrede word in hierdie stadium teen CoAL beplan nie. Die koalisie kla hulle het reeds verskeie keer omgewingsmisdrywe by die departemente van waterwese en omgewingsake aanhangig gemaak, maar min- buiten ‘n waarskuwing van die departement van waterwese- het daarvan gekom.

Die arrogansie waarmee CoAL te werk gaan met ons natuurlike hulpbronne, gaan die verstand te bowe.

Die koalisie hou vol: hulle is gekant teen mynbou by Mapungubwe of in enige ander sensitiewe gebied. Hulle vra die Presidensie en die Nasionale Beplanningskommissie om in te gryp, behoorlik te beplan wanneer mynpermitte toegeken word en beskermde gebiede tot “geen-toegangs-” (no go) gebiede te verklaar. “Ons kan nie bekostig om nóg biodiversiteit water en ekostelsels te verloor nie.”

‘n Mens wonder hoe die regering redeneer….hulle wil ontwikkeling laat plaasvind, maar ten koste van die omgewing. Dan is dit mos nie ontwikkeling nie. Dis mos vernietiging: nie net van die omgewing nie, maar ook van die ekonomie. Sonder ‘n omgewing wat behoorlik in stand gehou word, is ekonomiese ontwikkeling mos nie moontlik nie.

.Dit laat ‘n mens jou hande saamslaan. CoAL kan nie in ons omgewing vertrou word nie, veral omdat ons ‘n swak regering het wat nie omgewingswette kan/wil toepas nie. En sodra die regering wette wil toepas, sleep die mynhuise hulle hof toe……of verklaar dispute. Die myne het geld en skerp regslui tot hul beskikking…Hulle kyk na grys gebiede in wetgewing en optrede teen hulle en gebruik dit dan tot hul voordeel.

 

 

 

 

 

 

Foto

‘n Stryd rondom die Nzheleledam se water…

6 Des
Mphatheleni Makaulule by die Nzheleledam waaruit Coal of Africa nou glo sy water vir sy Makhado-myn gaan kry

Mphatheleni Makaulule by die Nzheleledam waaruit Coal of Africa nou glo water vir sy Makhado-myn gaan kry

Die Venda-omgewingsgroep, Dzomo la Mupo (Stem van die Natuur) en die Gaia Stigting in Brittanje, het op 29 November “ter wille van die mens en dier se oorlewing” ‘n beroep op CoaL of Africa(CoAL) gedoen om aan die Limpopokom te onttrek.

Die twee nie-regeringsorganisasies (NRO’s) het ‘n opebrief aan die direksie en aandeelhouers van CoAL geskryf. Amy Woodrow Arai van die Gaia Stigting het afskrifte van die brief afgelewer by die kantoor in Londen waar CoAL sy algemene jaarvergadering gehou het.

Woodrow Arai het telefonies vanuit London gesê CoAL moet besef mynbou-aktiwiteite in die Limpopokom gaan die lewens vernietig van die mense wat hier woon. “Hier is nie genoeg water vir mens, dier, plant en steenkoolmyne” in die gebied nie.

Mphathe Makaulule, van Vuvane in Venda, stigter en leier van Dzomo la Mupo, skryf in die brief: “Ons is gekant teen die vernietiging van die natuur tot voordeel van nét een geslag(generasie).

“Ons as Dzomo la Mupo kan nie toekyk hoe dit gebeur nie. Mynbou (soos die by Vele langs Mapungubwe) is besig om die aarde se lewegewende stelsels te vernietig.”

Makaulule skryf Venda (die Vhembe biosfeer) is grond wat die mense van hul voorvaders gekry het en waarop etlike generasies gewoon het. “Hierdie is ons huis.”

“As ons steenkoolmyne in die Limpopokom gaan toelaat, gaan ons kinders in ‘n giftige niemandland sonder water moet probeer oorleef.

“Hier in Limpopo hoor ons elke dag hoe ons water moet spaar, maar dan kom CoAL en vertel ons die Makhado-myn gaan binne twee jaar al ons ondergrondse water opgebruik.

“Waar daar nie water is nie, is daar nie lewe nie. “

Steenkool is die grootste sondaar wat klimaatsverandering veroorsaak. Daar is iewers ‘n kortsluiting by die regering, want die hoeveelheid steenkoolmyne wat hy beplan en die  beloftes wat hy by klimaatkonferensies(soos dié by COP17)  gemaak het om sy kweekhuisgasse te verminder, kom nie ooreen nie.

“Wat gaan ons vir toekomstige geslagte vertel as ons nóú stilbly en toekyk hoe dié ramp alle lewe en muyamufhe (die lug wat almal inasem) vernietig?” Mynbou in die Limpopokom bedreig voedselsekerheid. CoAL wil water uit die Nzheleledam gebruik. Díe rivier is reeds bedreig. Ons is besig om die oewers van die rivier te probeer herstel deur inheemse bome terug te plant.

“Ons gaan nie toelaat dat ons rivier doodgemaak word deur ‘n steenkoolmyn en vinnige profyte nie.

“Ons, wat vandag leef moet besluit oor die toekoms van ons kinders. Ons vra dus, terwille van toekomstige geslagte, dat CoAL sal ophou om steenkool in die Limpopovallei te myn.”

Coal of Africa(CoAL) het geantwoord die myngroep gaan werk skep in die verarmde Limpoporivierkom.

CoAL meen daar is “geen empiriese bewyse” dat mynbou “lewegewende ekostelsels in die Limpoporivierkom” gaan vernietig nie.

CoAL maak Dzomo la Mupo se pleidooi af as “emosioneel” . Dié mynhuis wat reuse-oopgroefmyne noord van die Soutpansberg beplan, sê Dzomo la Mupo maak “wilde stellings”.

CoAL daag die Gaia Stigting en Dzumo la Mupo uit om ook wérk hier te skep…..

CoAL wil nie die inhoud van die ooreenkoms wat hy met die sitrusboere oor die gebruik van die Nzheleledam se waterbekend maak nie.

Die mynhuis is nou glo besig om sy waterlisensie-aansoek op te stel. As ons kan sien wat hierin geskryf staan, sal ons dalk meer oor dié omstrede ooreenkoms te wete kom.

Besluite en ooreenkomste oor water, mág nie ‘n geheim wees nie.

Hoe gaan ons dít regverdig?

16 Sep

Soos ek nou hier sit, op hierdie Sondagoggend (terwyl ek seker in die kerk moes gewees het), is dit net die voëls wat ek hoor en die wind, en soms ‘n deur wat iewers in die huis klap.

Ek probeer altyd in die dampkring van die waarheid beweeg. Van my as joernalis word dit verwag om die waarheid te dokumenteer- sonder vooroordeel.

Ek het twee dae gehad om te dink en te probeer verteer wat ek en fotograaf en kollega Loanna Hoffmann Vrydag vanuit die lug uit ‘n helikopter gesien het toe ons oor Delmas en Ogies gevlieg het.

 

Give and take

Ons was die ooggetuies van die vernietiging van die Bronkhorstspruit, sytak van die Olifantsrivier. “Ek glo aan give and take,” sê ‘n kollega nou die dag. Maar besef dié kollega – wie se naam ek nie gaan noem nie- dat hierdie sogenaamde “give and take” verreikende gevolge het. Dit blý nie net by dié stukkie rivier waar steenkool op groot skaal uitgehaal word nie. Die gevolge van die kanker wat hier veroorsaak word, word saamgedra, tot in die wildtuin tot by die Massingirdam, deur Mosambiek tot in die see.

Miskien sal iemand eendag, ná die huidige geslag se dood, hierdie blog iewers in die argiewe opdiep en besef wat ons aan ons eie land gedoen het.

Ek dink nie ons nageslag gaan ons hiervoor vergewe nie. Ek kan al die verwyte hoor: “Waarom het ons voorouers dit nie gestop nie? Was hulle dan só ruggraatloos? Was hulle geestelik siek? Het hulle nie verstaan wat hulle aan die omgewing doen nie? Was hulle só hebsugtig dat hulle toegelaat het dat ons land vernietig word terwille van hul eie gemaksug, sodat nét hulle kon krag hê, sodat nét hulle in die lig kon werk? Wat bly vir ons oor? Duisternis.”

‘n Monster

 

Ons is besig om ‘n monster te skep, wat ons land en sy mense en ons buurland en sý inwoners duur te staan gaan kom.

Ek het al baie die pad tussen Ogies en Delmas gery en was telkens geskok om te sien wat daar gebeur, maar niks kon my voorberei op dit wat ons uit die lug gesien het nie. Oopgroefmyn op oopgroefmyn sover soos wat die oog kon sien. BHP Billiton se oopgroefmyn reg langs die Kendall-kragstasie is 4 000ha groot. Ek dink dit is omtrent so groot soos 8 000 rugbyvelde.

Exxaro, ‘n ent verder weg, nader aan Delmas, is nou al so diep in die Leeuwpan dat jy skaars hul voorlaaiers kan herken.

As omgewingsjoernalis kom ek dikwels te staan voor etiese kwessies en ek vra en wonder dikwels: kan die trauma wat ‘n mens ervaar wanneer jy grootskeepse omgewingsvernietiging sien en beleef, gelyk gestel word aan dié trauma wat kollegas ervaar wat daagliks oor moord en dood, soos die Marikana-slagting en die moorde in Muldersdrift, verslag doen? Ek het dit een keer hardop gesê: “ek aanskou en doen verslag oor soortgelyke insidente as moord”. Maar hieroor is ek al hard oor die vingers getik. “Niks kom by mensemoord nie. Hoe kan jy dit probeer vergelyk?”

Massamoord?

Maar is dit nie maar ‘n stadige, pynlike dood-‘n massamoord- wat ek aanskou nie? ‘n Moord waar elke lewende wese doodgewurg word nie? Waar hy stadig doodgaan omdat hy gif inasem en die water moet drink wat met gif besmet is?

Die nagevolge van die vernietiging van ‘n ekosisteem, beteken net een ding: dood. Nie net van die mens nie, maar van al die plante, voëls en soogdiere wie se habitat vernietig word.

Ek en Loanna het gesien hoe boere op klein lappies grond tussen swart berge steenkool worstel om kos te produseer. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die chemikalië wat sommige van hulle gebruik, veroorsaak ook gif in die water.

Dié boere sal seker ook een of andertyd, soos mnr. Koot Claassen – wie se plaas ons ook uit die lug gesien het- die handdoek ingooi en vir die myne sê: dé vat…Die hele plaas is nou een groot myn…En waar ‘n vlei of dam was, is nou ‘n gat met groen water daarin.

Die tekens is reeds daar van nog mynbou-aktiwiteite wat vir die gebied beplan word: honderde prospekteerbore staan die wêreld vol- in panne en vleie en op landerye.

Van die boere wat nog oor is, werk tonne kalk in hul grond (voorheen rooi en vrugbaar) in, omdat dit nou versuur het.

Die wetenskaplikes wat die krokodilvrektes in die wildtuin nagevors het, het glo nou nog nie ‘n antwoord nie. Maar ek vermoed hulle wéét en besef dat die Olifantsrivier nou in so ‘n mate beskadig is, dat die voortbestaan van die Krugerwildtuin op die spel geplaas is.

Maar soos ons teen die tyd weet, het sommige van die myne ‘n manier om ‘n mens bang te praat, te dreig en te probeer intimindeer. Die ironie van die saak is, dat die mynhuise óns minerale rykdom opdiep, óns water vernietig en dan met die geld wat hulle hieruit verdien, advokate en prokureurs aanstel om diegene wat hulle kritiseer òf by die persombudsman gaan verkla òf hooggeregshof toe hardloop.

Nalatenskap

Só nou bly ons maar stil en hoop suur mynwater loop nie binnekort uit ons krane nie.

Dit wat ons Vrydag gesien het, gebeur ook in die Steelpoortrivier (nog ‘n sytak van die Olifants) en in die Klein-Olifantsrivier.

Dit gebeur óók in die opvangsgebied van die Vaalrivier. Hierdie kanker gaan versprei na Gauteng.

Kan die regering dan nie verstaan dat mynbou nie in sensitiewe gebiede moet plaasvind nie? Het ons nie geleer uit die nalatenskap van die goudmyne aan die Witwatersrand nie. Is daar nie ander, minder sensitiewe gebiede waar ons mynbou kan toelaat nie?

Ek hoor nou die dag ons minister van minerale bronne, Susan Shabangu sê van die steenkool wat in Suid-Afrika gemyn word, word 40% vir ons eie kragopwekking verbrand en 60% word uitgevoer. Moet ons nie eers na ons eie behoeftes omsien nie? Waarom moet ons ons omgewing vernietig sodat lande soos Indië en China kan groei? Dit maak mos nie sin nie.

Moenie verbaas wees as daar nog krokodille, skilpaaie en vis in die wildtuin en in die Loskopdam doodgaan nie. Moet ook nie verbaas wees as die boere van Groblersdal hul GlobalGap- sertifisering verloor nie.

En wees gewaarsku as die EU nie meer ons kos wil koop nie, gaan dit op ons eie markte verkoop word. Moet ook nie verbaas wees, as nog boere tou opgooi nie en nog plaaswerkers sonder werk sit nie.

En moenie verbaas wees as Gauteng se ekonomie tot stilstand knars nie.

Maar vir die oomblik skep die myne in die Olifantsrivier genoeg werk en hou dit die wiele van Suid-Afrika se ekonomie geolie en aan die rol…..